Die le Roux-familie in Suid-Afrika is afstammelinge van die Franse Vlugtelinge wat in die sewentiende eeu uit Frankryk na Nederland gevlug het, en van daar deur die V.O.C. na Suid-Afrika gebring is.Deur die herroeping van die Edik van Nantes in 1685, is die Franse Hugenote, aanhangers van die Protestants-Christelike geloof, hulle godsdiensvryheid ontsê en aan vervolging blootgestel. Baie van hulle het gevolglik na ander Europese lande uitgewyk; sommige na Nederland. So het dit gekom dat twee jong mans, Jean en Gabriel le Roux, op 31 Desember 1687 Delfshaven aan boord van die Kamer van Delft se fluitskip Voorschoten saam met nog sewentien ander Hugenote verlaat het. Hulle land op 13 April 1688 in Saldanhabaai en was die eerste twee stamvaders van die le Roux-familie in Suid-Afrika.Jean le Roux is gebore op 16 Nov 1666 op die plaas Pommegorge naby Mer in die Orleanais, Frankryk, as seun van Isaac le Roux, eienaar van Pommegorge (1615-1687) en Jeanne Bourdon (1634-1672).Gabriel le Roux is gebore op 25 Jul 1669 te Blois in die Orleanais, Frankryk vir Pierre le Roux (1623-1682) en Anne Bourdon, gebore 1639.Isaac en Pierre was neefs, seuns van die broers Estienne, gebore 1588, en Jean le Roux (1592-1668) onderskeidelik. Albei is gebore op die plaas Pommegorge waarvan Estienne later eienaar geword het, terwyl Jean 'n suksesvolle Protestantse sakeman op Blois onder beskerming van Gaston (1608-1660), Hertog van Blois, was. (Die inligting is verstrek deur Maurice Guillot in 1997).Na die dood van Isaac se vrou Jeanne Bourdon in 1672 het Pierre en sy gesin hulle op Pommegorge gevestig waar Jean en Gabriel saam opgegroei het. Hulle het na mekaar verwys as broers. Waarskynlik is Isaac en Anne na Pierre se dood in 1682 getroud.Sover vasgestel kan word, was Anne en Jeanne Bourdon niggies. Anne se ouers was Gabriel Bourdon (1604-1680) en Esther Avice, terwyl Jeanne se ouers Estienne Bourdon *1602 en Madeleine Louat was. Hulle was almal Protestante van Mer. Estienne en Gabriel Bourdon se ouers was Mathurin Bourdon en Marie Pocheron, ook van Mer.Jean en Gabriel was baie geheg aan mekaar. Aan die jongste, Gabriel, is eerste 'n plaas toegesê deur goewerneur Simon van der Stel, in 1689. Dit was 50 hektaar groot, aan die westekant van die Bergrivier geleë, en hy het dit La Concorde genoem. Deel van hierdie plaas is vandag die eiendom en hoofkantoor van die KWV in Suider-Paarl. Hy ontvang oordrag op 3 Maart 1692. Op 21 Julie 1695 was daar egter 'n driehoekige ruitransaksie toe Gabriel Salomonsvlei in Klein Drakenstein ontvang van Salomon de Gournay, wat op sy beurt Hartebeeskraal (tans Amstelhof) kry van David Senechal, en La Concorde oorgeneem word deur Senechal.Jean le Roux het in 1690 Goede Hoop, 'n buurplaas van la Concorde, oorgeneem en dit in 1700 oorgedra aan Paul Couvret. Op 28 Feb 1699 word 'n erfbrief vir die plaas Parys in Klein Drakenstein deur die nuwe Goewerneur WA van der Stel ten gunste van Jean opgestel maar dit is eers in 1712, dws na Jean se dood, deur ene Willem Helot onderteken.La Concorde het na drie jaar sy eerste wyn opgelewer. Albei neefs was suksesvolle wynboere en olyfprodusente.In die jare 1701 en 1704 is Gabriel en Jean onderskeidelik getroud met Marie-Catherine le Febre en Jeanne Mouy. Gabriel was die vader van vyf kinders, en Jean van vier. Gabriel se nasate is vandag die talrykste.Die twee het in Augustus 1711 saam verdrink.Die derde stamvader, Jean le Roux afkomstig uit Normandie, het op 27 Julie 1688 met die Kamer van Amsterdam se seilskip Wapen van Alkmaar onder kaptein Carel Goske van Texel vertrek en Kaapstad op 27 Januarie 1689 bereik. Hy trou in 1700 met Marie le Lievre, van Lille (Ryssel) in Frans-Vlaandere. Sy presiese plek van herkoms asook geboortedatum is onbekend. Hy is in 1752 oorlede en sy vrou in 1751 Hy besit die plaas Vlakkeland in Daljosafat van 1692 tot 1706 asook Langverwacht, naby die huidige Kuilsrivier van 1721 tot 1726 en Welgevallen by Stellenbosch van 1723 tot sy dood. Sy nakomelinge is die minste van die drie stamvaders..