Op 17 November 1962 kom 'n agtiental Le Rouxs in die Sanlam raadsaal te Waalstraat, Kaapstad bymekaar om "belangstelling in ons familie, ons voorouers en ons afkoms op te wek en om te oorweeg om 'n familiesaamtrek in die nabye toekoms te hou".

Die reëlingskomitee wat op die byeenkoms gekies is het daarin geslaag om op 13 April 1963 - op dag en datum presies 275 jaar na die aankoms van die Le Roux-stamvaders op Suid-Afrikaanse bodem - 286 Le Roux-familielede byeen te kry op die terrein van die Hugenote-monument. Die Le Roux Familiebond is amptelik op 11 Maart 1967 te Franschhoek gestig net na die opening van die Hugenote Gedenkmuseum aldaar. Dit was die resultaat van meer as vier jaar se aktiewe aanvoorwerk en beplanning onder leiding van Mnr George J le Roux (1896-1971). Die eerste bestuur was: Voorsitter - Ds GP le Roux (1896-1970), Ondervoorsitter - Dr WG le Roux, Sekretaris-Penningmeester - Mnr GJ le Roux, Addisionele lede - Dr. PO le Roux, Prof. JM le Roux, Mev Kathleen le Roux en Mev Janetta le Roux. 'n Grondwet met duidelike doelstellings is aanvaar en daar is hard gewerk om die doelstellings te verwesenlik.

Een doelstelling wat die Bond gehad het, was die oprigting van 'n gedenksteen ter ere van ons drie stamvaders. Hierdie ideaal is verwesenlik toe Oom Pietie le Roux van Stellenbosse Boere-orkes faam op 27 Maart 1971 die gedenksteen, gekap uit Paarlse graniet, op die terrein van die KWV-hoofkantoor in die Paarl, onthul het. Die KWV-hoofkantoor staan op die plaas La Concorde, wat oorspronklik aan die stamvader Gabriël le Roux toegeken was.

Tot dusver was daar nog net vier Voorsitters van die Bond: Ds Gabriel Petrus le Roux van 11 Maart 1967 tot sy afsterwe op 25 Nov 1970, Dr Willem Gabriël le Roux vanaf 1971 tot 25 April 1992, Jean Gysbert le Roux vanaf 1992 tot April 2006, en die huidige voorsitter, Ds Daniël Frederick le Roux.

 

 

 

 

      Willem G le Roux                           Jean G. le Roux